Oorspronklikke Afrikaanse musiek in ʼn eg Afrikaanse manier.

Nico van Vuuren, die talent agter Inspirasie Veelvoud, is gebore in 1975 in Vanderbijlpark in die Vaal Driehoek. Hy het op die ouderdom van vyf die eerste keer ‘n kitaar ontdek in ‘n hangkas in sy ouma se huis. Maar dit sou eers op sewentien wees wat hy self die kitaar opgetel het en homself begin leer het om te speel. Van hier het hy in verskeie ‘bands’ gespeel en op die ouderdom van vier-en-twintig (1999) het hy die pen opgetel en self in Afrikaans begin skryf. Dit sou wel eers in 2021 wees wat Nico sy eerste enkelsnit vrygestel het onder Inspirasie Veelvoud met die self getitelde liedjie.

Inspirasie Veelvoud se woorde en melodieë neem jou op ‘n reis van herinneringe en persoonlike ervaringe, geskryf in die genre van volwasse Afrikaans kontemporêre musiek, wat soms die hartsnare roer. Sy klanke en woorde is gebaseer op alledaagse ervaringe, met invloede van kunstenaars soos Koos du Plessis.

In 2023 het hy herkenning ontvang van die South African Independent Music Awards (Afri-Indie) vir Beste Afrikaanse Liedjieskrywer vir die liedjie “Woorde in my dagboek”. In 2024 het hy nog twee verdere Afri-Indie toekennings verower, een vir Beste Volwasse Kontemporêre Enkelsnit (Manlik) vir “Witborskraai” en Beste Volwasse Kontemporêre Musiekvideo (Manlik) ook vir “Witborskraai”. Inspirasie Veelvoud het ook aanklank gevind by verskeie radio luisteraars, insluitend onderhoude op Harties FM, Radio Suid Afrika en vele meer.

Inspirasie Veelvoud se musiek kan gevind word op alle digitale platforms, insluitende Spotify, Apple Music en Youtube, waar sy unieke musiek videos ook vermaak.

“Sy musiek is ʼn tuiskoms. Die woorde en melodieë omvou jou soos ʼn warm kombers in die winter. Dis Afrikaans op sy beste. Luistermusiek, wat jou na kaggelvure en goeie samesyn laat verlang.” – Gerda Bruinette, Vaalweekblad